Search    

Stories van Ou Inwoners

e-posbrief aan TAALGENOOT:  atkv@atkv.org.za

 

Chrissie is , klein dorpie tussen Ermelo en Swaziland. Die dorp is vernoem deur die Skotte, na Chrissie Pretorius.

Chrissie is ook bekend vir die jaarlikse paddafees. Chrissie se meer is die grootste varswatermeer in die land.

Gebruiksartlikels waarna verwys word, was bekend in die jare vyftig. So ook die tradisies van die plattelanders daardie jare.

 

CHISSIESMEER, OOK LYKEDISSIE (Lake Chrissie) GENOEM

 

Watter jong seun het nie in “karre” belanggestel nie? Ons het van karre en lorries gepraat. Later eers van motors, bakkies en vragmotors.

Ek dink aan toentertyd se Nash, Plymouth, Dodge, Rambler, Chev Fleetmaster, Ford Custom of Studebaker, Pontiac, Packard of Buick.  Pa het ‘n 50’ Ford Customline, daarna ʼn Vauxhall Wyvern en later ‘n ‘58‘ Borgward Isabella gehad. Jan du Preez-hulle het met ‘n Humber Super Snipe gery. Sersant du Preez met ʼn Hillman Minx. Daar was geen Zephyr Six, Consul, Prefect, Anglia of Vanguard in die omgewing nie. Engelse karre  wou nie op die riffel-grondpaaie hou nie. Ook nie Morriisse, Austins of Wolseleys nie. Op Chrissie was net een “automatic” - ʼn kar met outomatiese ratte. Oom Freddie Fick se Chev het nie ʼn “clutch” gehad nie. Ek kan nie onthou of karre toe al “white walls” gehad het nie. Ek het altyd pa se Ford se wiele met Nugget blink gemaak.

Die in-ding was lemoentjies op die lugdraad, plastiekskoenlappers op die masjienkap en besoekdorpe se plakkertjies teen ‘n agtervenster. In die vensterbank ʼn plastiekskilpad met ʼn swaaiende kop en stert. En soms ‘n deurskynende knop met ‘n kaal meisie aan die stuurwiel vasgeskroef.  En Rondalia en AA-kentekens aan die voorste “bumpers”. Karre het toe nog nie truligte en “flickers” gehad nie. Bestuurders moes met handseine wys wat hulle wou doen.

In ʼn plaas se waenhuis was meesal  ʼn Chev- Dodge- Fargo- of International-bakkie met ʼn seilkappie op. Bakkies het sakke mielies, kunsmis en skoolkinders vervoer. Gutbrod, ʼn ingevoerde bakkie met ʼn agtermasjien, was nie waffers nie. Min het die land ingekom.

Die enigste vervoerkontrakteur, was ou Swartland wat met sy rooi Studebaker-lorretjie vir die witmense karweiwerk gedoen het.

‘n Boer, Oom Koos le Roux, het by De Wit se garage op Ermelo, vir hom ‘n nuwe Peugeot gekoop. Terug op die plaas, het oom Koos al die los skroewe wat hy in die enjin kon kry vasgedraai. Die kar wou toe nie “staart” nie. Oom Koos het die garage gebel. ʼn “Mekenniek” moes van Ermelo af kom help. Oom Koos het die petrolskroef op die “karbereiter” ingedraai.

Onder  ʼn afdak langs die plaaswaenhuis was meesal ʼn Ferguson-trekker (Vaaljapie) of ‘n Farmall, of ‘n Case, of ‘n Ellis Chalmers, of ‘n Fordson  of ‘n Massey Harris ingestoot. Van ‘n Bulldog Lanz met ‘n groot vliegwiel en een silinder, het ek net gehoor. Trekkers kon net kragparaffien as brandstof gebruik. Hier-en-daar is nog met  ‘n span osse geploeg. Wintermaande is tydsaam met die skape laeveld toe getrek. Ek moes geduldig bult op en bult af agter ‘n trop skape op die grondpad aankruie. Was nie altyd moontlik om ‘n stofwolk agter ‘n ander kar sien aankom nie. Paaie het gewoonlik tussen koppies, kakiebos en om waterpanne gevroetel, deur draadhekke met ʼn vlenterklonkie wat vir ʼn sikspens ʼn hek oopmaak.

Treine het nie oor Chrissie geloop nie. Breyten was die naaste stasie. Rooi spoorwegvragmotors, stompneus Leylands en later vinniger Diamond T’s het goedere tussen Breyten en Swaziland vervoer en op Chrissie stilgehou. Die busstasie was deur Oom Hendrik en tant Nellie Esterhuysen behartig. Oom Hendrik het later Genesaret, die kampterrein langs die meer, aan die N G Kerk geskenk. Danie van Aardt het glo eenslag in die vyftigs met sy International-bakkie deur die meer gery – so droog was dit. Chrissie se meer is die grootste van ons land se varswatermere – een van 270 in die nabye omgewing.

Agter Oom Hendrik-hulle het tannie Lizamore gebly. Sy het klere gemaak. Ek onthou haar lang blou sisrokke, tandlose mond en dogter wat nie heeltemal by was nie. Een of ander sindroom.

In die dorp en omgewing was etlike stewige sandsteenhuise, met staalplafonne, plankvloere en ʼn kaggel. Party het ʼn paadjie van die voorhekkie af tot by die blinkrooi stoep, gehad – en op die stoep ʼn rak, met swart battery-blombakke. ’n Tuinpaadjie met weerskante bakstene wat op hul koppe staan, van die hekkie af, tussen dahlias en Jakob-regoppe deur, voordeur toe.

In tant Tien se voorhuis het 3 halwe porseleinvoëls gehang.  En ʼn porselein-hondekop.  Ek kan nie onthou of daar ʼn “De Smalle en Breede Weg” ook was nie. Dalk portrette van Generaal Smuts en oom Paul.  Iewers op ʼn plaas het iemand prente van kamele op sandduine gehang met ysterhakies aan ʼn swart prentelys. Was dit bokant ʼn  “serfeintjie?

As ek reg onhou het ʼn  ‘donkie” warmwater voorsien -  naby die huis ʼn 44-galontenk wat horisontaal op ʼn sementvoetsuk rus. Onder die drom is vuurgemaak.

In tant Martatjie (die koster) se voorhuis was ʼn geraamde prent met “Wat is ʼn Huis sonder ʼn Moeder”. Dalk ook ʼn blou-geverfde glasprent met gefrommelde blink papierletters en Oom Paul se gesig daaragter. En vlae en “krienkelpyper-blomme” in ʼn pot. Ek verbeel my in die gang was blinkgrys portrette met oupa’s ouma’s se foto’s agter bolglas.

Chrissie het 4 sandsteenkerke gehad – twee Afrikaans en twee Engels. Klip uit die omgewing. Alvier staan nog. Nogiets: Oorkant die ou pastorie was oom Nathan-hulle se kerkhuis, ʼn kliphuis. Vir wanneer die Esterhuysens met Nagmaal kerk toe kom. Saterdagoggend is basaar gehou, met poedings, “flans” en pannekoek, jukskei, bagatel. En skyfskiet en jukskeigooi vir die manne. Nagmaalnaweek was dit vierkeer kerktoe. Vir my gans te veel. Sondag se nagmaaldiens was laaaaaaaaaaaank. Sondagmiddag se doopdiens was gelukkig korter.

Tant San het vooraf rustig orrel gespeel. Met die derde “gedong, gedong” het die konsistoriedeur oopgegaan. Dominee het waardig die kerk binnegekom, geklee in sy swart toga met klossies, ʼn wit beffie op sy bors en agter hom die kerkraad, aangetrek met swart manelle en wit strikdassies. Partymaal het ʼn buurpredikant met Nagmaal kom help.

“Gee dat U Gees die leraar sterk..............” Met my nuwe grys dubbelbors-pakklere aan, was dit vir my ʼn waardige erediens. Ek moes stil sit en my gedra. “Pipperminte” en pienk sen-senlekkers uit ma se handsak het gehelp. Ek het altyd net ʼn sikspens in die bordjie gegooi. Ek het eenslag net ʼn halfkroon by my gehad. Die diaken het my skeef aangekyk toe ek twee sjielings se kleingeld gryp.

Net met Nagmaal was oom Koos Rautenbach in die kerk. Hy was doof. Wat soos ʼn kopertregter gelyk het, het oom Koos in sy regteroor gedruk om beter te kon hoor.

Om die kerk tussen die motors het oom Hennie en tant Mart se groot Henschell-lorrie wyd geparkeer. Dit was hul enigste vervoermiddel. Oom Hennie-hulle het langs oom Paul en tant Marta Fick op Nooigedacht geboer. Die Ficks was welaf skaapboere. Nie ver daarvandaan nie, Lothair se kant toe, is ʼn natuurlike brug oor die Vaalrivier. Nog verder aan boesmantekeninge op die sandsteen.

Meeste huise het ‘n sandsteen- of sinkbuitekleinhuisie gehad, met ‘n grootgenoeg gat in die dennehout-sitplek. Ek moes versigtig sit om nie deur te val nie. Ek onthou die bottel Littles Dip met ‘n mieliestronkprop en geskeurde koerantpapier (Die Vaderland of Transvaler of die Hoëvelder) aan ‘n spyker. En spinnerakke met “Daddy Longleg-spinnekoppe” in die hoeke. En gaatjies in die sinkplaat wat sonligkolletjies op die grondvloer gooi. En ‘n Huisgenoot, Naweekpos, of Brandwag, of Keur, of Fyngoud om te lees, ingeval die sittery vervelig word. Ketting-spoeltoilette was skaars. Groen of pienk gehekelde oortreksels met blommetjies op ʼn toilet  was toe ʼn nuwigheid.

In party erwe was ʼn koeistal en ʼn hoenderhok. Rooi hoenders wat op ʼn warm dag “gekok-kok” en blinksterthane wat soggens die son verwelkom het. Melk van die stal af is in ʼn “sepperyter” (romer) se bak gegooi. Ek het graag slingergedraai totdat die klokkie ophou lui. Room het by die boonste tuit uitgekom, afgeroomde melk by die onderste een, en het in ‘n skuimbol in die emmer geëindig. Vars melk was op die tafel in ʼn emaljebeker met ʼn gehekelde doilie, met rooi druppelkrale om die rante. Ek moes botter karring in ‘n groot vierkantige glasbottel met ‘n kantslinger. Vars karringmelk oor “poetoe-pap” het vorentoe gesmaak.

Saans is kerse opgesteek, of ‘n pitlantern, of ʼn Tilley, of ‘n paraffien-pomplamp. “Spirits” is met ‘n kromnekkannetjie reg onder die pomplamp se sakkie ingegooi. Oupa moes gereeld pomp om die druk in sy blink lyf op te bou. Ons het ‘n Optimus gehad, Oom Apie Prinsloo-hulle ‘n Coleman.

In die kombuis met ‘n groen geblomde linoleumvloer, was ‘n blinkswart Falkirk-stoof, of ‘n roomkleurige Ellis de Luxe, met ‘n houtkas daarlangs en aluminiumketel wat staan en kook, en ‘n ysterpot met afgesaagde pote, vir lekker braaihoender.

Bokant ʼn koolstoof het gewoonlik vuurysters gehang. En blikbekers, selfgemaak van ou stroopblikke en koperklinknaels. Moenie vergeet van ʼn warmwatersilinder wat met pypelmboë aan die stoof se vuurkant verbind. was nie. Koolstowe is saans skoongemaak en weer vir die volgende dag gepak. Eers met mieliestronke, dan fynhoutjies en daarop gekapte hout.

Eenmaal per week is ʼn swart stoof met Zebo-politoer weer blink “gepolliesj”.

Welaf boere kon ʼn Aga- of Esse-antrasietstoof bekostig.

Op ʼn koolstoof, aan die eenkant, was ʼn paar ysterstrykysters. Soms kon ek gebrande pap ruik. En kooltjies hoor wat by die oopklaprooster uitskiet. Yskaste? Partykeer paraffien, of ‘n houtskool-koelkas in die agterplaas. Water het van bo af gedrup om die sykante koel te hou. Paraffienyskaste het altyd ʼn kombuis na ʼn paraffien-broeimasjien laat ruik.

Chrissie was jare sonder ʼn slaghuis. Boere het self vark geslag, vet uitgebraai, skaap geslag, afval gekook, sult gemaak, bees geslag en wors gestop. Moenie die biltong vergeet nie. En wat was lekkerder as aartappelskyfies wat saam met kaiings in vet gebraai is? Brood en sous? Mielierys en sous? Stampmielies en sous? Nog lank na die oorlog was rys nie beskikbaar nie. As ons te veel geëet het, was ons voorland iets soos Witdulsies, of Jamaica Gemmer, dalk “Pippermintdruppels”. Ek kan nie onthou waarvoor Fraaiers? Balsem, Balsem Kopiva en Rooilaventel gebruik is nie? En Turlington? Chamberlains se hoesmiddel was nie te sleg nie. Daar was ook iets soos Beladonnapleister. Was dit vir inflamasie? Ma het van seep en suiker ʼn goeie trekpleister gemaak. Eenmaal ʼn maand, op ʼn Saterdaqgoggend, kasterolie toegegooi onder lemoensap. Dit het jou imgewande skoongemaak. Seker die rede hoekom ek nooit weer van lemoensap gehou het nie.

Het ons tydig en ontydig kuiermense gekry is hulle gewoonlik met gedroogde perskes huis toe. Daarby dalk waatlemoenstukke of “appelkoosjem” in ʼn “kêmvroetbottel”. Dalk ʼn karmenaatjie?

Onthou ek nou skielik van die outas wat pap in driepoortpotte gemaak het en saans hul rubbersandale, van ou motorbande gemaak, om die vuur gesit het. ‘n Steenkoolvuur in ‘n vierkantige paraffienblik (genoem ‘n konka?) met gate in.

Amper vergeet ek van kleremaak – ‘n Singer-masjien met ‘n handslinger op die kombuistafel. Gare van ‘n houttolletjie af - dit was ‘n voorreg om ouma te help gare-opdraai. Leë tolletjies en breiwol is vir tolletjiewerk gebruik. Vier spykers ewewydig om die gaatjie ingeslaan was die breimajien. Aan die anderkant het ‘n wolwurm uitgekom waarmee ons kinders plekmatjies en vatlappies gemaak het.

Nadat ons kuiermense gegroet het, moes ons buite loop speel. Of wou ons die grootmense se tande tel? Speel? Ja, sakdoekvrot, "ring a ring a rosy”, blikaspaai, wegkruipertjie, bok bok staan styf, “hop Scotch”, albaster, top, kennetjie. Of gaan “swing”.-  ʼn oopgesnyde motorband wat aan ‘n boomtak gehang het. Partykeer boomgeklim. En modderhuise gebou. En ketties gemaak. Pa het ʼn kaskar gemaak. Met ʼn slaappop, ʼn “tea set” en komberse in seepkiswaentjie, het  my sus Henna en ek gaan uitkamp.

Verjaarsdae en Kersfees? Tyd vir persente. ‘Vir meisies ‘n slaappop, ‘n piepiepop, papierpoppe, lappoppe, ‘n “tea set” vir huis-huis speel. Vir seuns Dinky Toys, ʼn Meccano-stel, opwentrein, ʼn sjieling se plastiekmotor en waterpistole. “Krekkers” en vuurpyle ook. Vir Nuwe jaar ,en om die klonkies te laat skrik. Pampoenspoke op die ouklip-kraalmuur het hulle bang gemaak.

Wat van wyksbidure? Gereeld. By so ‘n wyksbiduur, het ds Ebersohn vertel: ‘n omie het glo eendag vir reën gebid: “Dit moenie net tip, tip, tip nie Hemelse Vader, dit moet sommer so shwarrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrr”. By bidure het Oom Willie van der Vyfer of Oom Nathan Esterhuysen gewoonlik eerste gebid: vir “die siekes wat op hul beddens neergepluister” is.

Van geloof gepraat: ‘n Boer het glo op sy grondpad plaastoe beheer oor sy nuwe motor verloor. “Liewe Here, hou hom net op sy wiele, ek sal hom in die pad hou, as ek onder kom verkoop ek hom”. Hy het onder gekom en die motor verkoop.

Oom Piet de Clerq het Sondagoggende met sy Hudson Commodore (of Hornet?) kerktoe gekom, met die kinderoppasser in die kattebak. Was nie genoeg plek voor in die kar nie.

Daar was geen aanddienste nie. Saterdagaanddienste net met nagmaal. Die anties was met hoed en al in die diens, omvou deur die reuk van Potter en Moore, Yardleys of 4711 se “oude-keloun”. Deftige anties het handskoene gedra, een antie selfs ʼn jakkalsvel oor haar skouers. En ʼn handsak. En Cameo-borsspeld. Omies, onthou ek, met ʼn snor, het altyd na twak geruik. Pyptwak. Woensdagmiddae is Kinderkrans vir die skoolkinders, gehou, een ander of weeksaand Strewers (KJV?) vir die jongmense.

Op ʼn plaas het oom Piet Diedericks gewoon. Hy kon nie ’n “r” uitspreek nie. Hy’t homself as “Piet Diedediks van Lake Chidissie”  voorgestel.  As hy nie kon slaap nie, het oom Piet in die bed “dont gedol” totdat die dag breek.

Onthou Ta’ Sarie wat vir haar en oom Izak doodsklere gemaak het. Toe hulle eendag van Ermelo  af terugkom, sien hulle twee mans met hul doodsklere aan langs die pad loop. Die manne het by die ta’ Sarie-hulle ingebreek en die doodsklere gesteel.

Trots wou ta’ Sarie eendag haar kuikens vir die nuwe dominee wys. Die hok was agter die huis. Toe hulle by die hok kom, was  daar ‘n gat in die ogiesdraad en geen kuiken nie. “Dis die Here se werk, die duiwel is nie slim genoeg om die muishond deur die draad te laal kom nie” het sy verduidelik.

Munisipale dienste was daar nie. Langs omtrent elke huis was ‘n boorgat met ‘n windpomp, en ‘n watertenk op ‘n staander. Selfs ʼn windlaaier vir die draadloos-battery. En op die grond, ‘n tenk met reënwater van die dak af. Langs omtrent elke huis was ʼn watertenk op ʼn ysterstaander of ʼn sandsteenkamertjie, en ʼn windpomp wat lui in die son gestaan en sug het.

Daardie jare het Chrissie nog ‘n nagkar gehad. Die dorpie was klein en sonder ‘n rioolstelsel. Snags as die inwoners slaap, het die  nagjong, met ‘n dik jas en ‘n swartgerookte paraffienlantern, deur die donker strate geloop en al die kleinhuisie-emmers leeggemaak. Die kar het glo een nag omgeval. Jy kan dink......

Ek het eenslag die klappie, aan die agterkant van so ‘n kleinhuisie opgelig en ‘n omie wat gaan broeklosmaak het, se sitvlak met ‘n takkie gekielie. En daar skrik die man erg en spring sonder sy broek buitentoe. Hy’t gedink dis ‘n rinkhals. Chrissie het baie rinkhalse, tussen die turksvye agter die ou pastorie. Ek wonder of die bome nog daar staan? Suurappels, rooiwang-appelkose, bloedpruime en perskes. Ai tog..............

In die poskantoor was ‘n telefoonsentrale. “Sintrale” (die antie) het die skakeling met die hand gedoen het. As jy wou bel moes jy ‘n slinger aan die sykant van die telefoon draai.  Plase het ‘n gesamentlike lyn gehad. Elke foon sy eie kode: twee kortes en ‘n lange, ens. “Nommer asseblief, hou aan, k’sit u deur”. “Vir wie’s die lui”? Op plaaslyne is gereeld ingeluister. As jy ‘n pou in die agtergrond hoor skree het jy geweet wie inluister. “Sintrale” het meesal geweet waarheen ‘n huurder was. Sy het of ingeluister of die huurder het haar gesê.

Dan weer oom Withans Swart. Hy het te perd van sy plaas af met ‘n mandjie eiers dorptoe gery. Hy het kontant nodig gehad en wou die eiers aan die Algemene Handelaar verkoop. Maar, Schalk Meyer het hom te min aangebied. Oom Withans vat toe die pad na die koelie (Indiërwinkel) toe. Amod en Ismael was so ‘n myl uit op die dorp op die Swaziland-pad. Schalk bel toe vir Amod, sê vir hom die oubaas is op pad. Amod bied toe nog minder as Schalk aan. Oom Withans is toe terug dorptoe. Hierdie keer bied Schalk hom nog minder aan. Oom Withans moes toe die paar sjielings aanvaar. Oom Withans was baie suinig.

By Schalk se winkel kon ons lekkers koop wat in ‘n tregter  van koerantpapier gedraai is. En Wilson-toffies, “liekeriesj” en “niekkerbols” en in ʼn bruin papiersakkie, “vrypipperminte” en “lucky packets” met  “charms” daarin.

In die dorp was nog twee ander winkels: Cecil Dawson in die klip-hoekwinkeltjie (vroeër Barclays Bank) en Raymond Thorpe s’n, naby die skool. Albei in die straat Ermelo toe. Raymond Thorpe het twee antieke Fords in die waenhuis agter sy winkel weggesteek. Sy suster, Edna, het die winkel behartig.

Die ou klippastorie was langs die kerk. Ek het graag saans, as die Lister-enjin loop, in die kerk gaan orrelspeel. Tant San de Clercq, ‘n traporrelantie, het Sondae begelei. Sy het nie daarvan gehou dat die 12-jarige haar waardige plek inneem nie. Eendag, na kerk, het sy die orrel gesluit. Nie links nie, het ek aan die kerkraad geskrywe en toestemming gevra om te mag speel. Die kerkraad het ingestem.

Saans was daar niks te doen nie, slegs nuusluister, of na die Mielieblaarklub, Die du Plooys van Soetmelksvlei – met ‘n Mullard-draadloos, of ‘n Pye, of ‘n Pilot, en ‘n 6-volt-karbattery op die vloer. Battery is deur ‘n windlaaier gelaai. Saterdagaand moes die battery volgelaai wees. As die draadloos met ʼn gedreun en gesuis gewys het dat dit aangeskakel is, en ʼn groenooglig ook. Wat die lig se funksie was, kon niemand my sê nie.

Na 8 het ons na “U eie Keuse” geluister. As ons Sondag kerk toe gegaan het nie, moes ons om half elf na die kerkdiens oor die draadloos geluister. Dalk het dit gereën en was die plaaspaaie onbegaanbaar. Na aandete

huisgodsdiens om die kombuistafel. Ons moes stilbly sodra die Bybel die kombuis ingedra word. Uit respek. Vir gebed moes ons om die tafel kniel. Bewaar jou siel: as ek my versie vergeet het, het ek sommer Henna  se versie herhaal.

Die koster daardie tyd was ‘n klein, onaansienlike, maar getroue en diepgelowige antietjie met ‘n boggelrug:  tant Martatjie Esterhuysen. Sy het oor haar hoë “bloeddrup” gekla. Maar, die kerkbanke en vloere was altyd silwerskoon. Sy was trots op haar werk. Eenkeer het sy gemmerbier vir die basaar gemaak. Die paraffienblik waarin die bier gemaak is, was nie mooi skoon nie. En sowaar, ‘n stewige, hartelose antie het  haar gekritiseer omdat haar bier na Laurel-paraffien smaak. Naby die Ermelo-pad  was tant Bellie se huis. Die tannie met ʼn bril waarvan een glas ondeursigtig was. Ons het haar altyd jammer gekry. Dalk was die oog blind of uit.

Basie Groenewald het die enigste garage gehad. Net twee rooi petrolpompe met toeklapdeurtjies en ‘n glasembleem bo-op.

Pertrol was met die hand gepomp. Kies hoeveel gelling jy nodig het, draai die kiesknop na die betrokke syfer en pomp met die swaai-arm. Een van die twee glasbottels word op ‘n keer van onderaf gevul. Sodra die bottel vol is, spring die kiesknop een syfer terug en die vol bottel se petrol loop in die kar in. Dan volg die tweede bottel. So word die bottels een na die ander volgepomp. Jy kon tussen Pegasus en Caltex kies.

Agter die garage het Basie se pa, oom Coenie, die netjiesste trekkersleepwaens gebou. In sy werkswinkel was nog  ‘n konsertinablaasbalk wat met ‘n lang stang op-en-af gepomp is. Dominee Ebersohn het selfs ‘n rooi vierwiel-trekkersleepwa wat oom Coenie gebou het, agter sy Ford Witrivier toe gesleep. Wat ‘n gesig!

Die pa tog! Hy het eendag amper in die moeilikheid beland. Dit was ‘n middag en biduur in die ou kerk. Die kleinhuisies was gesluit. Pas nadat hy “daar is nou geleentheid vir gebed” gesê het, moes hy  pastorie toe hardloop. Ma was doodbenoud. Sê nou net..............Gelukkig was pa betyds terug om “amen” te sê.

Die kerkhorlosie het gaan staan. Seker afgeloop. Mens moes regop deur luike, met ‘n ysterleer in die toring opklim om die opwenslinger te kan draai. Soos gewoonlik was pa te haastig. Met die klimslag het sy voet gegly. Hy het deur ‘n luik geval en vir ‘n ruk lank aan een skouer bly hang. Die skouer het hom vir die res van sy lewe gepla. Pa was ʼn veelsydige mens. Skyfskiet, visvang, houtwerk (sy eie boot gebou) gedigte en koerantartikels skrywe, klavierspeel. Hy het op sy plasie naby Witrivier selfs agter ʼn handploeg en twee donkies ʼn voor getrek om lemoenboompies te plant.Alhoewel pa in Hollland en Amerika studeer het hy nederig gebly. Besittings, kwalifikasies en status het vir hom nie saakgemaak nie. Seker die rede hoekom hy so geliefd was.

Chrissie se eerste skool het bestaan uit twee klaskamers aan die onderkant van die Ermelo-pad. Ruimte was later te min en die unieke Skool op Wiele het bygekom - ‘n ysterwielwa met ‘n sinksykante en twee vensters aan elke kant. Later van tyd is die wa vir ekstra slaapplek vir meisies by die koshuis gebruik. Oorkant die pad is later nog twee klaskamers gebou. Vir die graad een’s en twee’s was Marie Groenewald onderwyser. Vir die standerd een’s, twee’s, drie’s en vier’s, Mnr van Vuuren (ou Prop).

Met ‘n griffel op ‘n leikliptablet het kinders leer skrywe – en met ‘n natlappie weer skoongemaak. Skoolskoene was duur. Skoenpunte is afgesny, sodat die die groeiende voete langer die Edworks-skoene kon dra. As jy Cuthberts gedra het, het jy ‘n ryk pa gehad. Almal het ‘n leerboeksak op die rug gedra. Seuns se hare was kort, met Brylcream en Vitalis  blink gehou. En hulle het kruisbande gedra om die kakiebroeke bo te hou. Rekke het langkouse bo gehou. En hulle het na Lifeboy-seep geruik. Meisies se hare was gevleg. Met haarknippies en linte, het die hare tot by die boude gehang. 

Van hare gepraat: dit laat my dink aan die anties met plastiekamme in die haargolwe en die bollas. En nette aan die hoedrand waardeur hulle vir jou gekyk het.

Nog skoolsake: Het jy al op ‘n koue winteroggend as die gras witgeryp is, skooltoe geloop? Skoenspore onderdeur bloekombome oppad skooltoe het hul eie storie vertel. Chrissie kan koud word. Ryp op die gras; waterpype wat toe-geys het.

Terloops: Die Skool op Wiele het later by die Onderwysmuseum in Pretoria tot ruste gekom. Wonder of hy nog daar staan?

Mnr Muller, ou Monkey, se klas was aan dieselfde kant as sy huis, die latere koshuis en sopkombuis, ‘n afdak. Daar is pouses rosyntjies en grondboontjies of “prunes” bedien en regte koshuissop.

Monkey, was klasonderwyser vir die standerd viers en vyfs, skoolhoof, koshuisvader en boer. Hy KON ‘n lat swaai.

Wanneer ou Monkey in skooltyd plaastoe is, het die viers en vyfs lekker gerumoer. Terug by die skool, het ou Monkey die klas bekruip en tussen die blombakke in die vensterbank, deurgeloer om te kyk wat aangaan. Die blombakke was ou swart motorbattery-kaste. Bewaar jou siel.............

‘n Vindingryke seun het toe sand op die stoep gestrooi. Die klas kon Monkey daana hoor aankom en hulle gedra. Wie onthou van die lei en griffel waarmee kinders leer skrywe het? En die inkpenne, inkpotjies, en kladpapier wat soms in bolletjies teen die plafon gesit het? En die inkkolle op die klere? En vingers blou van die ink? En potlode wat in ʼn masjientjie met ʼn slinger aan die eenkant skerpgemaak is?

Anderdag vertel ek van Misses Price se Dumbarton Oaks (hotelletjie). Die eikebome staan nog. En van die grênd Miesies Bailley se Hotel Bellefleur:  Díe waardige “lady” het saam met Dr Rubin gebly. In 1953 het die hoofgebou van die pragtige grasdakhotel afgebrand. Ermelo se brandweer was te laat om die skade te keer. Baie mense het gewonder...........en geskinder.

Min Chrissie-mense het ooit by die hotelle gekom. Min Chrissie-mense was  met Engels gemaklik.

Almal ken die storie van die graf in die kerkhof met die tralies om. Tydens die Boere-oorlog is ‘n jong Tommie daar naby doodgeskiet. Vir jare het sy verloofde in Engeland ‘n kransie Chrissie-toe gepos. Babs Dawson was posmeester. Babs het getrou die kransie op die Tommie se graf gaan sit. Op die man se verjaarsdag. Baie jare later het Babs ‘n kransie ontvang met ‘n briefie daarby. Die verloofde in Engeland het geweet haar einde is naby. Sy sou by haar geliefde aansluit. Dit was die laaste briefie ʼn -  kransie het nie weer gekom nie. Sy het by hom aangesluit.

Nou-ja. Chrissie se mense was besondere mense, goeie mense, opregte mense, hulpvaardige mense, die sout van die aarde. So duidelik het Chrissie bewys dat geld nie alles is nie.

Groete van

Jan Ebersohn

(Chrissie-inwoner vanaf 1945 tot 1947, daarna weer vanaf 1953 tot 1960).

Meenthuis 50,

Huis Herfsblaar,

Webb-straat

Queenswood

0186